Lizz Meiring
Van toeka tot nou...
Hierdie gedeelte van die webtuiste bevat 'n oorsig van die belangrikste projekte, prestasies en hoogtepunte in Lizz se loopbaan tot en met vandag.
Biografie
Lizz Meiring staan bekend as een van Suid-Afrika se mees veelsydige vermaaklikheids kunstenaars. Sy is ‘n gevierde aktrise, en is ook bekend as televisie-aanbieder, teater-regisseur, dramaturg, roman-skrywer, teksskrywer, lektor, teater-vervaardiger, joernalis, gewilde seremonie-meester, gasspreker, stemkunstenaar en draaiboekskrywer.
Sedert sy 24 jaar gelede as aktrise in die kunste- en vermaaklikheidsbedryf begin het, was sy nog nooit sonder werk nie en as veelsydige bedryfspersoon, is sy dikwels met verskeie projekte tegelyk besig.
"Ek is doodeenvoudig op my gelukkigste wanneer ek aan ses goed tegelyk werk... en wanneer dit soms gebeur dat ek net een ding het om te doen, raak ek geweldig verveeld!"
Haar professionele loopbaan het as drama-student begin. Lizz het opgetree vir Truk Ballet, Truk Drama, en verskeie televisie produksies vir die destydse SAUK. Sedertdien, het sy in televisie produksies vir alle plaaslike kanale, sowel as vir die BBC, verskyn.
Sedert sy haar BA Drama (Honneurs) graad in 1983 aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het Lizz al as hoof- en byspeler in meer as 306 verhoogproduksies, 257 televisie produksies en 13 rolprente opgetree. Dit het gewissel van klassieke werke tot kontemporêre dramas, klug, komedie, kabaret, musiekblyspele, sitcoms, tot pantomime. Sy was regisseur en/of skrywer van 74 verhoogproduksies en ook betrokke by die vervaardiging van hoofstroom teater.
Lizz het al 5 dramas vertaal: vanuit Frans na Afrikaans, en vanuit Engels na Afrikaans. Sy het ook gewerk as skrywer en mede-skrywer van televisie-tekste en roplrent draaiboeke. Sy is tans besig met die skryf van haar sewende solostuk.
Bekend vir haar steun en kennis van die visuele kunste, dien Lizz dikwels as gasspreker by die opening van kunsuitstallings. Kunstenaars vir wie sy al uitstallings geopen het, sluit groot name soos Chris Diederichs, Sanna Swart, Berko Wilsenach, Isolde Kramst, Eugenie Marais en Musha Neluheni, in. Sy skryf gereeld artikels vir verskeie publikasies oor alle aspekte van die Kunste.
Lizz was ook bevoorreg genoeg om by verskeie geleenthede in die buiteland op te tree - in Nederland, Engeland (Londen), Denemarke, en die Edinburgh Kunstefees. Baie van hierdie optredes was saam met die internasionaal bekende satirikus, Pieter-Dirk Uys.