Die Beste van Bizzie Lizzie
Queillerie (NB Uitgewers)
ISBN 978-0-7958-0016-0

Nou beskikbaar by boekhandelaars landswyd!
Of bestel by:
Die Beste van Bizzie Lizzie
deur Lizz Meiring
Die nuutste publikasie uit Lizz Meiring se pen, het pas verskyn. In hierdie heerlike boek, is 62 van haar Bizzie Lizzie rubrieke wat maandeliks in Rooi Rose tydskrif verskyn, vervat.
Die rubrieke is opgedeel in buie, of moods, soos 'BESIELD', of 'BEKAF', en elke buie-afdeling word aan die leser voorgestel met 'n humoristiese vers of stukkie rymelary... 'n talent waarvoor Lizz al lankal bekend is.
Lizz se aweregse sienswyse, oorspronklike, slimsnaakse, en soms diep-treffende stellings en waarnemings, het hierdie rubrieke sedert hul tydskrif-verskyning vyf jaar terug, uiters geliefd gemaak onder lesers. Soveel so, dat hierdie rubrieke dikwels deur Afrikaanse onderwysers gebruik word as klaswerk. Dit is selfs al as besprekingspunte en begripstoetse in eksamenvraestelle gebruik! Dramaskole, dramastudente, skoliere en kunswedstryd-deelnemers gebruik die rubrieke as gedramatiseerde prosa, monoloe, vertellings en sketse.
Die Beste van Bizzie Lizzie is kortkuns met 'n kinkel... rubrieke wat roer. 'n Ideale geskenk aan jouself, 'n vriendin, 'n ma, 'n dogter of kollega en ook vir jou man - Bizzie Lizzie het hordes gereelde manlike lesers!
'n Bizzie Lizzie-rubriek
is my repliek
op die vrae van die lewe -
soms innig ligsinnig,
soms vreeslik verhewe.
Hier's g'n diep filosofie of aardskuddende feite,
net satire, ironie, patos, humor en eksentrisiteite.
Dis 'n eklektiese versameling van vyf jaar se skrywe,
gerangskik en georden in verskeie emosionele bedrywe
want al woeker jy hoe -
na jou lig of jou donker kant toe -
mens skryf soos jy voel
en jy voel soos jy skryf.
Vergeet van die verloop van seisoene of jaargetye,
Ons almal (veral vroue) se lewens verloop in buie.
Begeerlik, belaglik, berustend, besield,
in beheer of bekommerd,
Beneweld-behoeftig of besete-bedonnerd.
Iewers hier gaan jy jouself raak lees
en besef dis betaamlik om bloot, buierig, mens te wees.